Die vrees is nie meer ‘n gevoel nie, dis ‘n gewoonte. Die sleutels tussen jou vingers by die kar. Die “live pin” wat jy los voor jy huis toe ry. Elke vrou in jou lewe: jou Ma, jou suster, jou vriendin, jou biervrou, dra hierdie waaksaamheid soos ‘n tweede vel, elke dag. Dit is die werklikheid.
Johannesburg, Durban en Kaapstad is drie van die tien onveiligste stede op die planeet. Dit kom ook net weke na Vrouemaand, die maand toe GBV in byna elke gesprek gesit het. En toe, amper of dit vir bewyse gewag het, kom die nuus uit Ekurhuleni: die polisie ondersoek nou of nege vrouemoorde die werk van een persoon is.
Ons het ‘n wyle terug met Dr Micki Pistorius gesels oor presies wat ‘n reeksmoordenaar definieer, en hierdie week luister ons na ‘n gedeelte van daardie gesprek.

Dr Micki Pistorius is Suid-Afrika se eerste kriminele profiler.
Sy het in 1994 die SAPD se Ondersoekgerigte Sielkunde-eenheid op die been gebring en op van die land se bekendste reeksmoord-sake gewerk, ‘n loopbaan wat haar internasionaal as baanbreker in die veld gevestig het.
Haar outobiografie, Catch Me a Killer, is ‘n internasionale gewilde titel en is in 2024 as televisiereeks vervilm.
Sy tree steeds op as kenner-getuie en konsulteer wêreldwyd oor kriminele profilering.
‘n Wyle terug het ons met haar gesels oor presies wat ‘n reeksmoordenaar definieer. Luister na die volle episode hier: https://afrikaans.radio/klets/micki-vang-moordenaars/
Maar ‘n ander deel van die land presteer ook: Stellenbosch Universiteit het nou vyf lewende miljardêrs en 28 sentimiljoenêrs onder sy alumni, meer as enige ander universiteit in die land.
Twee ranglyste. Twee soorte Suid-Afrika.
En al die pad van Doha af, die veiligste stad op aarde, ontmoet ons vir die heel eerste keer ons “Brak van die week”.
Dis vrees en syfers.
Dis KLETS.




