“Wat de vloekwoord” is ‘n podsendingreeks waarin die standpunte en houdings van inhoudskeppers in die vermaaklikheidswêreld en media oor vloek en taboe onderwerpe ontgin word. Deur onderhoude met bekende (Afrikaanse) skrywers, TV- en filmvervaardigers, regisseurs, akteurs, musikante, redakteurs, joernaliste, podsenders en bloggers leer ons meer oor sensuur in Suid-Afrika, wat die funksie van vloek is, hoe kykers en luisteraars op vloekwoorde reageer, ensovoorts. Dié reeks is deel van ‘n groot navorsingsprojek wat handel oor vloek in Afrikaans en verwante tale.
Kom vloek saam!
Wat de vloekwoord?! – Amanda Strydom
Amanda gesels in hierdie episode oor haar grootwordjare en haar eerste vloekwoord. Die gesprek maak draaie by vloek op die verhoog, die kuns van storievertelling en wat repek vir ‘n gehoor vir haar beteken. Sy gesels openlik oor uitdagings en taboes wat sy oorkom het gedurende haar loopbaan – van die Amandla-insident in 1986, tot al die taboes rondom haar psigiatriese diagnose.
Amanda Strydom in gesprek met Elmarie Claassens is ‘n kliniese sielkundige in ‘n privaat praktyk.
Wat de vloekwoord?! – Anton Goosenᅠ
In hierdie aflewering gesels Anton veral oor sy persoonlike ervarings met betrekking tot sensuur in die Afrikaanse musiekbedryf. Reeds van vroeg af in sy musiekloopbaan is hy van verho→ verban, of mag sy liedjies nie op nasionale radio gespeel geword het nie.ᅠ
Anton Goosen in gesprek met Gerhard B van Huyssteen. Gerhard is ‘n professor in Afrikaanse taalkunde en taaltegnologie aan die Noordwes-Universiteit.
Wat de vloekwoord?! – Beer Adriaanse
Beer gesels in hierdie episode oor omgekeerde rebellie, asook oor die fyn lyn in skryf tussen pittigheid, snaaksheid en vulgariteit. Die gesprek verken verder ook temas oor desensitering, kwesbaarheid en volle (manlike) naaktheid op die silwerskerm.
Beer Adriaanse in gesprek met Elmarie Claassens is ‘n kliniese sielkundige in ‘n privaat praktyk.
Wat de vloekwoord?! – Chris Vorster
Chris gesels in hierdie aflewering oor sy grootwordjare, hoe hy vloekwoorde in karakterbybels gebruik, asook oor hoe om die fyn balans te handhaaf tussen aanstoot gee en paai in skryfwerk en regie.
Chris Vorster in gesprek met Elmarie Claassens is ‘n kliniese sielkundige in ‘n privaat praktyk.
Wat de vloekwoord?! – Claire Johnston
Claire gesels in hierdie aflewering oor haar grootwordjare in ‘n huis waar daar nie gevloek is nie (al was haar eerste vloekwoord op driejarige ouderdom!). Aandag word ook gegee aan leenvloekwoorde oor en weer in Afrikaans en Engels. Die gesprek fokus dan uiteindelik vir ‘n groot deel oor Mango Groove as rol in die oorgangsjare na ‘n nuwe bestel in Suid-Afrika en hoe hulle op ander maniere as met eksplisiete politieke lirieke deel was van die verandering wat plaasgevind het.
Claire Johnston in gesprek met Gerhard B van Huyssteen. Gerhard is ‘n professor in Afrikaanse taalkunde en taaltegnologie aan die Noordwes-Universiteit.
Wat de vloekwoord?! – Dawid Minnaar
Dawid gesels gesels in hierdie aflewering oor vloek, moraliteit, emosionele intelligensie en goeie maniere. Hy brei uit oor die dinamiek van diplomasie en valsheid. Die gesprek fokus later op die funksie van vloek op die verhoog en hoe onnodige vloek ‘n teks kan laat verwater.
Dawid Minnaar in gesprek met Elmarie Claassens is ‘n kliniese sielkundige in ‘n privaat praktyk
Wat de vloekwoord?! – Hunter Kennedy
Hunter gesels in hierdie aflewering oor 20 jaar in die musiekbedryf, die “Fok God”-insident, sy proses om liedjies te skryf, die donker tye in sy eie lewe en hoe hy homself nie te ernstig opneem nie.
Hunter Kennedy in gesprek met Elmarie Claassens is ‘n kliniese sielkundige in ‘n privaat praktyk
Wat de vloekwoord?! – Kim Cloete
Kim gesels in hierdie aflewering openlik oor die grootste taboe wat sy al ooit ervaar en moes oorkom het, en sy verduidelik hoe sy betekenis vind in haar loopbaan deur juis aktivisties op te tree en taboes direk aan te pak. Aandag word ook gegee aan stereotipering van karakters deur middel van teks, en intensie agter woorde en kommunikasie. Kim beskryf die p-woord soos nog min gehoor.
Kim Cloete in gesprek met Elmarie Claassens is ‘n kliniese sielkundige in ‘n privaat praktyk
Wat de vloekwoord?! – Prof Kobus van Rooyen
Kobus gee in hierdie episode ‘n boeiende maar bondige oorsig oorsig oor die ontwikkeling van publikasiebeheer in Suid-Afrika. Hy vertel interessante staaltjies uit die binnekringe van die regering en die mense wat boeke verban en ontban het. Ook besin hy oor wat volgens hom ‘n beste aanpak is met betrekking tot die beskerming van kinders.
Prof Kobus van Rooyen in gesprek met Gerhard B van Huyssteen. Gerhard is ‘n professor in Afrikaanse taalkunde en taaltegnologie aan die Noordwes-Universiteit.
Wat de vloekwoord?! – Leon van Nierop
Leon gesels in hierdie aflewering oor die geskiedenis van vloek in die Afrikaanse filmwese – van die eerste film waarvan hy weet waarin met opset gevloek is, tot van die jongste films. Hy praat ook uitvoerig oor die ouderdomsbeperking van 16TG op die film ‘Ballade vir ‘n Enkeling‘ en hoe dié ouderdomsbeperking kykerstalle beïnvloed het. Deurentyd word ook aandag gegee aan die rol en funksie van vloek in verskillende genres.
Leon van Nierop in gesprek met Gerhard B van Huyssteen. Gerhard is ‘n professor in Afrikaanse taalkunde en taaltegnologie aan die Noordwes-Universiteit.
Wat de vloekwoord?! – Marita van der Vyver
Marita gesels in hierdie aflewering oor die voortgaande stryd rondom die onafhanklikheid van die vrou, taboes rondom vroulike wellus en seksualiteit, menstruasie, eufemismes en hoe ‘Griet’ steeds relevant bly.
Marita van der Vyver in gesprek met Elmarie Claassens is ‘n kliniese sielkundige in ‘n privaat praktyk
Wat de vloekwoord?! – Melt Sieberhagen
Melt gee ‘n noukeurige analise van wat bedoel word met “gemotiveerd” as mense sê “vloek moet gemotiveerd wees”. Hy identifiseer spesifieke parameters waaraan die gemotiveerdheid gemeet kan word. Hy praat ook – gebaseer op sy eie ervaring – oor die verskille tussen komedie, skerpsketsery, roskamming (“roast”) en improvisasiekuns. Ter afsluiting gee hy insig in die wêreld van oorklanking.
Melt Sieberhagen in gesprek met Gerhard B van Huyssteen. Gerhard is ‘n professor in Afrikaanse taalkunde en taaltegnologie aan die Noordwes-Universiteit.
Wat de vloekwoord?! – Neil Sandilands
Neil praat in hierdie aflewering oor die lewe in Hollywood en veral die kanselleerkultuur in Amerika – ‘n moderne vorm van sensuur. Hy besin ook oor (self)sensuur op sosiale media, soos bv. YouTube. In die video van Die ballade van Frik & Dot, oftewel “Goue Graal” is daar ‘n paar vloekwoorde, en Neil vertel hoe hulle die radioweergawe van dié lied aangepak het.
Neil Sandilands in gesprek met Gerhard B van Huyssteen. Gerhard is ‘n professor in Afrikaanse taalkunde en taaltegnologie aan die Noordwes-Universiteit.
Wat de vloekwoord?! – Sophia Kapp
In hierdie aflewering gesels Sophia aan die een kant oor haar persoonlike lewe en die rol wat vloek en ander taboes daarin speel – veral ook in haar verhoudings met haar pa, ma en seun. Aan die ander kant besin sy oor die funksie van vloekwoorde in (veral Afrikaanse) fiksie en hoe die gebruik daarvan van genre tot genre verskil.
Sophia Kapp in gesprek met Gerhard B van Huyssteen. Gerhard is ‘n professor in Afrikaanse taalkunde en taaltegnologie aan die Noordwes-Universiteit.