Goeie naand,
Beleef jy ook sommige dae wat jy net terneergedruk voel. Alles loop skeef, jy wil nie lag nie, jy wil met niemand praat nie, dit voel amper of die lewe in jou tot stilstand gekom het? Kragteloos breuk jy deur die sekondes.
Dan lees ons die woorde wat Paulus skryf in 2 Korinthiërs 4 – God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.” Hierdie Krag wat uit duisternis lig geskep het, het ook verlossing deur Jesus Christus bewerk.
Laat dit jou beter voel? In eerlikheid, vir my nie altyd nie. Mense is soms gewetenloos, hulle breek jou af, stel jou telleur. Dit vou jou toe met duisternis. Dan sê Paulus “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.
Mag hierdie krag wat God gee ook in jou werk, al voel jy ook so breekbaar soos ‘n erdekruik, in jou en deur jou is die Krag van God besig om te werk. In jou nagrus versterk Hy jou met al die botsings van emosies, hartseer, verlange, seerkry en al die ander letsels wat jy saamdra. Mag dit vir jou vrede bring. Sy Liefde vir jou is ewig soos ‘n glimlag, Hy dra jou deur die lewe, soos jy en wie jy is. Lief vir almal.
AMEN
Nagsê Here
Deel hier: