Goeie naand,
Mense het maar ‘n manier van kommunikasie met woord en daad selfs met lyftaal of “houdinkies”. Wyse raad van my pa was altyd as jy iets wil sê dink of dit waar is, of dit nodig is en of dit vriendelik is. As een van die drie ontbreek bly eerder stil.
Nou die aand met Spreuke 17 lees ek die laaste twee verse. “Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ‘n man van verstand. Selfs ‘n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig.” Dit is mooi woorde gelees maar bitter moeilik om te leef.
Sommige mense het net die vermoë om jou nerfdermpie van emosies te prikkel. Gedagtig aan die teks wil ek of moet ek Die Here vra ‘hoekom het Hy my gemaak soos ‘n ou ramkiekie met net een snaar, daardie een nerfdermpie wat so maklik getokkel kan word en nie ‘n harp met baie snare nie’. In jou lewe dalk ook, so maklik word emosies geraak wat jou kalmte versteur. Raak net aan daardie een snaar en jy raak deurmekaar. Jou oë blits vonke, jou houding verstyf, op die ou einde tref dit jou tong en jou lippe open. Woorde vlieg uit en iemand skreeu “Bel die polisie”.
Het jy maar met kalmte in wysheid opgetree maar nou sit jy met ‘n rooi gesig en dink dit was dwaas gewees, het ek maar geswyg. Ons is al almal deur sulke gevalle. Die “jammer sê” erkenning kom na die woorde gesê. Mag jy ook vanaand soos Dawid in
Ps 131 vers 2 sê: “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.” Mag jy vanaand kalmte en rus by Die Here, jou Skepper vind, Hy bied jou tevredenheid al sou omstandighede en mense jou ontstel.
Sy Liefde en Sorg, hou jou in toom en speel ‘n wiegelied, al is daar net een snaar.
AMEN
Nagsê Here
Deel hier: