Nagê Here – 5 Junie 2023

 
Goeie naand,
 
Soggens nog voor die son sy strale oor die aarde sprei soos glybane van gebeure wat nog moet plaasvind, hoor jy al die voëltjies die dag begroet. Elkeen met sy eie soort lied.
 
In die aand is dit weer die jakkalse wat tjank soos treurliedere, die leeus wat brul en ander diere. Dan vra ons “Hoe begroet jy die dag, hoe beleef jy jou dag?” Is dit met dieselfde gedagte en ingesteldheid waarmee jy jou dag met ‘n aandgebed afgesluit het. Hoor mense jou sing “Dankie vir hierdie skone more…” of “Hoed my as ek my gaan neerlê, Grote God wat altyd waak”? Jou afhanklikheid, jou toegewydheid en jou gesindheid word bepaal met ‘n dankbare lied uit jou hart aan Die Here wat jou tyd gun en Sy tyd vir jou skep.
 
Sê jy ook soos Ps 104 “Ek sê vir myself: Kom prys die Here!” Dit is so nodig, vir jouself ook, om die kosbare oomblikke jou gegun met Lof aan God deur te bring. Dit verander die mense om jou en jouself, so groot is die verskil wat jy kan maak met jou arbeid. Gister se herinnering het jou voorberei vir die dag wat wag.
More sal die son weer skyn. “As U die donker bring en dit nag word, roer al die diere in die bos. Die leeus brul op soek na prooi: hulle vra hulle kos van God. As die son opkom, sluip hulle weg en gaan lê in hulle skuilplekke. Dan gaan die mens na sy werk toe, en hy werk tot die aand.”
 
Mag jy ook die gebed van die natuur hoor soos ‘n lied, in jou oggend en aand en jy vers 33 kan beaam “Ek wil sing tot eer van die Here solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is.” Mag jy met ‘n lied in jou hart jou nagrus ingaan more wag, jy maak die verskil.
 
AMEN
 
Nagsê Here
Tuis | Podsendings | Nagsê Here | NH – 5 Junie 2023

Deel hier: