Nagê Here – 3 Junie 2023

 
Goeie naand, 
 
Ons lees van planete en planeet stelsels. Die afstande tussen planete in kilometers gemeet.
Om Pluto te bereik teen die spoed van lig is ongeveer vyf en ‘n half uur. Dan kom daar tye wat jy op aardbodem staan, opkyk en wonder hoe groot die ruimte is, en jy voel klein.
 
Waar is die Hemel dan, waar is die Koninkryk van God?
 
Woorde eggo in jou want Jesus het vir een wat saam met Hom gekruisig is gesê “Vandag, sal jy saam met My in Die Paradys wees.” Hoe vinnig gebeur dinge nie in sekondes nie, jy bid, jy hoop, jy glo en skielik verander jou lewe in smart of met ‘n gedagte. ‘n Nuwe gebed onstaan in jou vraelys of dankbaarheidslys. Jy wil vra “Here wat dink U van my, waar staan ek nou met U beplanning hier in my kleinheid op aarde, hoe ver is U van my?”
 
Psalm 103 lees “Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, 11want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.”
 
Mag jy as jy aan die grootheid van die heelal dink, wetend daar is planete wat jy nie kan sien nie, baie ver van jou af, Die Skepper daarvan, by jou voel. Hy het jou so lief dat Hy in jou Sy Stukkie Hemel skep, Hy kom in Sy Grootheid jou kleinheid vul. As jy Hom dien sal jy jou skuld, jou skande, jou verlede, jou seer, nie kan raaksien nie, Hy verwyder dit so ver weg van jou af. Vergeet van mense met ‘n vervolgingswaan, mense wat oordeel vel, mense wat seermaak, mense wat jou laat onthou.
 
Die Here, jou Skepper-God het met Sy liefde in jou kom woon en wat baie ver is na jou gebring, in ‘n sekonde, dit is Homself!
 
AMEN
 
Nagsê Here.
Tuis | Podsendings | Nagsê Here | NH – 3 Junie 2023

Deel hier:

n Ma en n Mikrofoon aangebied deur Daniëlla van Heerden nou op Afrikaans.Radio