Goeie Naand,
Het jy al gewonder hoekom mense gemeet word aan sosiale deelname en normes. Jy ken mense wat jyself in groepe sal verdeel.
Die stil mens, doen wat gedoen moet word, wanneer dit gedoen moet word, en rus daarna.Die syfer mens, analiseer en kritiseer alles maar het geen mense verhoudings nie. Die mense-mens wat almal gelukkig wil sien, tevrede wil stel en deur naïwiteit telkemale in die moeilikheid kom. Die ongeluksvoël, as daar iets verkeerd kan gaan dan gebeur dit met hulle. Die avonturier wat nie kan stilsit nie en baie stories kan vertel. Elke familie het die soorte, jy ken en herken hulle.
Met hierdie mense word nie bedoel die introverte of ekstroverte nie, die suksevolles of onsuksesvolles nie, die linkerbrein of regterbrein tipes nie, maar hoe jy mense meet of beoordeel in terme van jou eie leefstyl, jou sosiale omgang. Hoe dink jy sien Die Here hulle raak? Spreuke 15 het my baie diep laat dink oor die mense soorte, vers 3 “Die Here sien oral; Hy hou slegte en goeie mense dop.”
Dan lees ons verse 13-15, dit skep die norm van die sosiale maatstaf, hoe jy dalk ook mense opsom, elke iedere een wat jou pad kruis, hulle wat jou lewe beïnvloed.
“Blydskap laat ‘n mens se gesig straal; smart maak ‘n mens terneergedruk. ‘n Verstandige mens is op soek na kennis; ‘n dwaas voed homself met dwaasheid.
Dit gaan altyd sleg met ‘n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ‘n fees.”
Mag jy vanaand besef dat Die Here aan jou ‘n feestelike lewe bied sodat jy met jou stralende gesig van blydskap elkeen wat jou raaksien of dophou nader aan Hom kan bring. Jou lewe is jou fees, jou kennis van ervaar en aanvaar, word jou antwoord van dankbaarheid aan jou Skepper, Hy hou jou dop!
AMEN
Nagsê Here.
Deel hier: