Nagê Here – 20 Junie 2023

 

Goeie Naand,

Ek hoop dit gaan goed met jou en jou geliefdes. Daar is soveel gebroke verhoudings, feitlik daagliks verneem ek van vriende wat baklei of kwaad is vir mekaar, mense wat vertrou is en ander in die steek gelaat het of besteel het. Dan praat ons nie eers van huwelikke wat op die rotse land nie en die ewige twis in families tussen broers, susters of ouers nie.


In die kerk ervaar jy seerkry, in jou huis, in jou vriendekring in jou werksplek. Dit skep regtig waar ‘n gedagte dat die duiwel besig is om oorhand te kry. Wat het geword van liefde, eensgesindheid en saamwoon in vrede? Wat het geword van ons diens en antwoord aan God met ons leefwyse en verhoudings? Koning Dawid het baie van hierdie onmin ook ervaar, Saul wou hom doodmaak, sy eie seun Absalom ook, die volk in kampe geskeur, hoeveel keer moes hy nie vlug of wegkruip nie.

Dan skryf hy ‘n pelgrimslied in Psalm 133 – “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! Dit is soos reukolie wat van die kop af in die baard afloop, die baard van Aäron, af tot by die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val. Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën: ‘n lang, lang lewe.”

Mag jy vanaand in jou geselsie met God jou lewe in Sy Hande plaas en vra dat jy ook die goedheid en mooiheid kan ervaar waar broers in eengesindheid saamwoon. Mag Die Here, jou God, jou seën, om die verskil te maak tussen die gebroke mense sodat Sy liefde en vrede kan heers. Hy het jou so, só nodig.

AMEN


Nagsê Here.

Tuis | Podsendings | Nagsê Here | NH – 20 Junie 2023

Deel hier:

n Ma en n Mikrofoon aangebied deur Daniëlla van Heerden nou op Afrikaans.Radio