Nagê Here – 19 Junie 2023

 

Goeie Naand,

Ons ken almal die liedjie “Wat ‘n Vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan.” Wanneer jy aan die woorde dink dan wonder jy dalk ook aan die vriende wat jy het. Met absolute geloof weet jy dat Jesus altyd was, is en sal wees, as Vriend, Verlosser en God. Hoe vergelykbaar is dit met vriende, mense-vriende hier op aarde?

In Spreuke 18:24 lees ons vanaand “’n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is ‘n vriend wat sterker aanhang as ‘n broer.” Jy ken die term “mooiweersvriende”, as dit goed gaan met jou word jy omring deur vriende, wanneer mense jou nodig het word jy as ‘n vriend gereken. Daar is so baie stories hieroor in elkeen van ons se geskiedenis, jy weet ook hoe dit voel om alleen te staan en soekend na een opregte vriend verlang. Jy voel geruïneerd, misbruik en stukkend. Selfs familie vergeet van jou.
Ons praat nie nou van vriende in terme van bankbalans, kuiers of vakansies nie, ons praat van hartsvriende.

Jy soek na God in mense, ‘n bietjie van Jesus se Liefde maar sien dit nie raak nie. Die teks in Spreuke sê juis daar is ‘n vriend, Die Here self stuur iemand, ‘n vriend na jou toe, iemand soos Hy. Die Here hoor jou sugtende gebed, hierdie vriend is ‘n seën wat jou sal bystaan in jou hartseer, jou verlies, jou kommer en wanhoop juis om geluk te vind.

Mag jy vanaand reeds so ‘n vriend wil wees vir iemand anders wat jy ken en ‘n ware vriend deur God gestuur ontmoet. Sy Vriendskap is dit waaraan ware vriende gemeet word.

AMEN

Nagsê Here.

Tuis | Podsendings | Nagsê Here | NH – 19 Junie 2023

Deel hier:

n Ma en n Mikrofoon aangebied deur Daniëlla van Heerden nou op Afrikaans.Radio