Goeie Naand,
Daar is dae wat jy net blydskap ervaar. Jou dag begin sommer met sing onder die shower, jy gee nie om dat die voëltjies wegvlieg nie, die troeteldiere buite toe vlug nie, jy lag selfs as die koekie seep uit jou hande gly. Blydskap stimuleer jou, ongeag omstandighede. Mooi gedagtes, herinneringe en beplannings oorweldig jou.
Jy bid terwyl jy aantrek of ry en dink aan jou geliefdes. Jou omgewing word ‘n gebed, jou huisemense, vriende en familie word deel van jou gesprek met Die Here. Jou gebed word soos antibiotika of ‘n B kompleks boost. Die werklikheid tref jou dat jy met jou Skepper gesels vanuit die bed, op jou knieë, deur die shower en steeds terwyl jy besig is met jou dagtaak.
Opgewondenheid pak jou beet want jy sien uit om tuis te kom. Met ‘n glimlag groet jy jou gesin, laggend, spelend, singend word matte gesuig, kos gemaak, gesels oor die dag se gebeure. In hierdie gesprekke word Die Here betrek deur jou leefwyse.
Die dankbaarheid vir jou dagtaak, jou kos, jou gesin die dak oor jou kop, oorweldig jou met groter blydskap, ‘n stil gebed ontspring in jou hart en dit wys in jou oë, jou geliefdes sien dit raak en getuig van die goedheid van Die Here. Hierdie is waarvan Paulus praat in 1 Tessalonisense 5: 16-18. “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou.
Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”
Mag jy vanaand besef dat jy, deur so te lewe, die Wil van God gehoorsaam het, dat Christus se Liefdesdaad jou lewe oorheers, vir jou sekondes bied vir dankbare genade. Hy is met jou, deur jou word so baie, met jou geloof, aangemoedig.
Die beste medisyne vir ‘n mens se siel is: Lag, Bid en Dankie sê.
AMEN
Nagsê Here.
Deel hier: