Goeie Naand,
Daar was so ‘n ken mekaar TV program waarin mense ‘n prys kon wen as hulle die meeste vrae reg beantwoord oor die ander persoon. Wie dink jy ken jou regtig? Iemand wat reg gaan antwoord op vrae soos; “Wat laat jou lag, Wat laat jou huil, Wie is jy, Wat is jou belangstellings, Wat wil jy wees in die lewe, Wat is belangrik vir jou, Wat is jou grootste wens, Hoe reageer jy op insidente in jou lewe?”
Terwyl jy dink besef jy, dalk ook, dat jy nie so ‘n persoon ken nie, al is dit jou lewensmaat, ouer of kind. Dan kom die vraag “Ken jy jouself?”
As voorbeeld word ons ‘dierbare taxi drywers’ gebruik. Eendag is jy stil tevrede, selfs met ‘n glimlag as hy reg voor jou stop in die verkeer en mense oplaai of aflaai, ‘n ander dag wip jy jou en jou woorde klink soos ‘n outomatiese geweer wat skote afvuur, jy rit tit tit sommer op jou sitplek.
So met ‘n glimlag weer die vraag “Ken jy jouself?” Paulus moes mense wat hom gepeper het na sy vermoë, sy gesag, sy geskiedenis, sy roeping en doel in 1 Korinthiërs 15 antwoord. In vers 10 sê hy hierdie woorde “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.”
Mag jy ook weet vanaand dat jy is wat jy is, deur die genade van Jou God en Verlosser.
As daar een persoon is wat jou ken dan is dit Hy, weet dan ook dat Hy deur Sy genade ‘n sondaar roep tot bekering, Sy Liefde is ‘n Ope Arm en Stywe Drukkie gevoel.
Mag jy vanaand hierdie hartlike gevoel kry wetend dat jou Here wat jou ken en al die vrae oor jou kan antwoord ook na jou luister, en vir jou sê “Toemaar, Ek sien jou werk, Ek weet die goeie en die kwade, Ek gooi jou nie weg nie, jy is vrygespreek deur My Genade en Liefde. Wees wie jy is, in My Naam” Het ons nie ‘n Wonderlike God nie, ken jy Hom? Jou prys is die Ewige Lewe.
AMEN
Nagsê Here.
Deel hier: