Anton Goosen – die veel bekroonde Liedjieboer – is een van die grootste ikone van die Afrikaanse musiekbedryf. Sy eerste solusseweplaat het reeds in 1967 verskyn, terwyl sy jongste album meer as vyftig jaar later in 2019 verskyn het. Sy outobiografie, getiteld
Liedjieboer en geskryf deur Hanlie Retief, het in 2020 verskyn.
In hierdie aflewering gesels Anton veral oor sy persoonlike ervarings met betrekking tot sensuur in die Afrikaanse musiekbedryf. Reeds van vroeg af in sy musiekloopbaan is hy van verhoë verban, of mag sy liedjies nie op nasionale radio gespeel geword het nie. Met die Musiek en Liriek-beweging het hy en medekunstenaars soos David Kramer, Coenie de Villiers en Lucas Maree reeds lank voor die rewolusie van Voëlvry kritiek op die Suid-Afrikaanse samelewing gelewer, met die gevolg dat baie van hulle albums of liedjies verban is, of met beperkings of waarskuwings vrygestel is. By die befaamde Houtstok-konsert op 31 Mei 1990 het Anton Goosen en die Kommissie van Ondersoek luidkeels op die verhoog ‘n liedjie met omstrede woorde gesing. Luister hoe Anton hieroor gesels en besin of dit in 2020 nog steeds relevansie het.